Ons storie

1 April 1958 word erken as die amptelike stigtingsdatum van Hoërskool Transvalia onder die tydelike hoofskap van Mnr. J. de Vlamingh. Op 3 Januarie 1959 begin die skool in tydelike geboue in Buddstraat met Dr. S.W. Roos die eerste permanente hoof, 13 personeel en 348 leerders.

Baie gou moes die hoërskole in die Vaaldriehoek kennis neem dat daar met Hoërskool Transvalia rekening gehou moet word op die sportveld en op ander terreine. Op 18 September 1963 word die huidige skoolgebou amptelik geopen en word die skoollied vir die eerste keer deur ons dogterskoor gesing.

Dr. Roos word in 1970 aangestel as Inspekteur van Onderwys en Mnr. Ackermann neem in 1971 waar as hoof. In 1972 kry Transvalia sy tweede permanente hoof, Mnr. Elmar Steyn, wat tot sy aftrede in 1982 die skool van krag tot krag lei.

Mnr. J.N.C.J. Coetzee was hoof vanaf Januarie 1983 tot Julie 1988 waarna hy as Superintendent van Onderwys aangestel is. Mnr. F.A. Visser was hoof vanaf April 1989 tot April 2000. Hy het 'n pos by die PU vir CHO aanvaar in die departement Openbare betrekkinge.

Hy word opgevolg deur Mnr. R.A. Oosthuizen vanaf 1 Julie 2000. Op 1 Augustus 1992 word Transvalia ook 'n Staatsondersteunde skool. In Oktober 2009 word Mnr. J.R. Venske aangestel as skoolhoof.

Met trots kan vandag teruggekyk word na 'n ryke verlede en 'n kragtige voortstuwing om die skoolleuse BEHOU EN BOU uit te leef.

Skoollied

Waar die saad van rooigras windwieg
oor die vlakveld van die Vaal-
en wye aarde uitkring
Op die hoëveld van Transvaal,
Waar die staalstad sterke arms reik
Na die land se helder lug-
Staan Transvalia, die trotse
Skool van hoop en arbeidsvrug,
Waar ons bid en hoop en werk-
Uit ons eie erf die goed behou
Waar Transvalia, so trots en sterk
Hier ons land se toekoms bou.

REFREIN
Bou, behou, behou en bou
Transvalia (x2)jou jeug se faam
Bou, behou, behou en bou
Transvalia (x3) jou trotse naam.

WOORDE:
Mnr. Elmar Steyn

skoolwapen_swart_wit.jpg

SkoolWapen

Die sentrale simbool in ons wapen is die arend, ontleen aan die ou Transvaalse Wapen - simbool van krag. Die by met sy ywer en energie is vir ons die simbool van ons daaglikse taak - vandaar die tweede gedeelte van ons leuse bou. Die wiel van die ossewa, die eertydse draer van beskawing na die Transvaal, simboliseer vir ons daardie dinge ín ons volksverlede wat ons wil behou in ons skool.

Geboue en Terrein

Sportontwikkelingsentrum(Gimnasium)
Fisioterapeut spreekkamer
Twee rekenaarsentrums
Een Ingenieursgrafika en Ontwerp rekenaarklas
Radio Valia
Kafeteria
Mediasentrum
Nuwe Tennis en Netbalbane
Binnenhuise krieketnette
Krieketoefenfasiliteite

Skoolreëls

Ons is trots op ons skool, daarom word skoolfunksies in skooldrag bygewoon, tensy dit anders gereël word.

Die nakom van die rookbeleid is verpligtend. Rook op die skoolterrien is VERBODE en rook in SKOOLDRAG op ENIGE PLEK IS VERBODE.

Kou van kougom op die skoolterrein is verbode.

Die gebruik van alkoholiese drank en verdowingsmiddels is STRENG verbode.

Ongeoorloofde en uitspattige drag en oorbelle vir seuns en dogters word nie by funksies toegelaat nie.

NB! HOU TRANSVALIA SKOON. Moet nooit verby 'n papier loop nie, tel dit op en stel 'n voorbeeld.

Tydens skooluitstappies moet leerders korrek en baie netjies in skooldrag geklee wees. Seuns moet ten alle tye skoon geskeer wees. (Eksamen of klasse sal geweier word.)

Enige ingeskrewe leerder van Hoërskool Transvalia moet hom/haar onderwerp aan die skool se gedragskode en dissiplinêre stelsel. Die gedragskode is vir insae by die skool beskikbaar. As 'n leerder inskryf by Transvalia onderwerp hy/sy hom/haar aan die gedragskode.

Reëls in die skool

Niemand word voor skool of gedurende pouse in klaskamers of op trappe of agter die pawiljoene toegelaat nie. Luidrugtigheid word nooit op die terrein, op die stoepe of klaskamers toegelaat nie. Klaswisseling moet so vinnig en ordentlik moontlik geskied. Eerste klok wissel; 2de klok in klas

Niemand mag tydens skoolure die terrein sonder toestemming van die Hoof, Adjunkhoofde of Departementshoofde verlaat nie. Leerders wat verlof het om die terrein te verlaat, moet deur hulle ouers persoonlik afgehaal word. Andersins moet reëlings skriftelik met die hoof getref word, waarin ouers ook aandui dat die leerder te voet, per fiets of motorfiets mag gaan. LET WEL: Versoeke om tydens skoolure die terrein te verlaat, moet tot die minimum beperk word.

Leerders mag nie persoonlik hulle ouers vanaf die skool skakel om hulle te kom haal nie. Dit mag slegs deur die adminpersoneel geskied. Leerders mag slegs by hoë uitsondering gedurende periodes die klaslokale verlaat - slegs met 'n toestemmingsbrief van die betrokke onderwyser.

Vandalisme van enige aard hoort nie tuis by Transvalia nie. Die leerder is verantwoordelik vir betalíng.

Die gesag van die VLR (klasleiers en sportkapteins) moet deur leerders aanvaar en gerespekteer word.

Indien personeel afwesig is, moet leerders na die kafeteria toe gaan waar huiswerk gedoen kan word en hulle onder toesig sal wees.

Reëls vir voorskool en pouses

Geen leerling word in die saal of klubhuis toegelaat sonder 'n toesighoudende onderwyser nie. Leerders mag pouses op die terrein tot by die snoepwinkel ontspan. NIE agter die pawiljoen nie. Nie op hokkieveld, netbalbane en by krieketnette nie. (Ook nie op die pawiljoen of klubhuis se stoep nie).

Bly te alle tye weg van personeel se motors. Dit is verbode terrein.

Geen skaatsplanke word op die skoolterrein toegelaat nie.

Fietse, motorfietse en motors

Fietse en motorfietse word in skooltyd op die terrein toegelaat, maar mag slegs op voorgeskrewe plekke parkeer en as daar 'n geldige lisensie getoon word.

Parkering vir leerdermotors is aan die noordekant van die skoolterrien geskep. 'n Leerder moet sy motor se parkeerplek kom reserveer. Tydens die registrasie van so 'n parkeerplek sal die motor se registrasienommer sowel as die bestuurder van die motor se bestuurderslisensie gekontroleer word en vir rekorddoeleindes aangeteken word. Persone wat dit nie gehoorsaam nie, sal versoek word om hulle vervoermiddels buite die skoolterrein te parkeer.

Fietse moet by die skool gesluit word. Die skool kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir verlies van eiendom van leerders nie.

Gehoorsaam verkeersreëls oral waar jy met jou fiets, motorfiets of motor ry, veral wanneer jy in skooldrag is.

In die middae met die sportoefening mag motorfietse nie in die pad vanaf die klubhuis tot by die hokkievelde parkeer word nie. Dit belemmer die vloei van verkeer. Parkeer op die vierkante.

Leerders wat motorfietse en motors op die terrein bestuur en parkeer, moet in besit van 'n bestuurslisensie wees.

Tasse

Boeke is baie duur en daarom word slegs VERSTERKTE, STEWIGE TASSE met afskortings toegelaat en geen seilsakke nie.

Tasse en potloodsakkies moet van buite skoon gehou word en slegs die leerders se naam of voorletters mag daarop verskyn. Moenie jou tas sonder toesig laat nie!

Saal

Leerders mag nie die saal sonder toestemming binnegaan nie. Koeldrank en eetgoed word nie in die saal toegelaat nie. (Veral tydens sokkies).

Saalstoele moet opgepas word.

Saalbyeenkomste word altyd stiptelik gehou. Geen gesels of uitspattige gedrag word tydens enige saalbyeenkoms toegelaat nie.

Tennisbane

Leerders mag slegs die tennisbane in netjiese ontspanningsdrag en toepaslike skoene gebruik. GEEN buitestaanders word op die tennisbane toegelaat nie.

Sondae

GEEN sport mag op SONDAE op die terrein beoefen word nie.

Skoolbesoek

Alle gevalle van ongereelde skoolbesoek word deur die onderwysowerhede in 'n ernstige lig beskou. Probleme in hierdie verband, word deur die Beheerliggaam hanteer.

LET WEL: In gevalle van afwesigheid byvoorbeeld as gevolg van persoonlike siekte van 'n leerder, word verwag dat die leerder 'n brief of 'n mediese sertifikaat sal lewer op die eerste dag van sy terugkeer na die skool. 'n Mediese sertifikaat word vereis indien 'n kwartaaltoets of eksamenvraestel nie geskryf is nie.

Selfone

Gebruik van selfone, MP3 & Ipods in klasse is verbode. Die skool is nie verantwoordelik as enige van bogenoemde artikels gesteel word nie. Moet dus nie onbewaak laat nie.

Algemene netheid

Deur ons leerders te klee in die skool se amptelike drag, verleen ons aan die skool 'n voorkoms waarop u as ouer, u kind en die gemeenskap met reg trots kan wees. Alle tekens van gebrek of weelde word dan uitgewis en 'n sterk samehorigheidsgevoel, wat die grondslag is vir gesonde skooltrots en skoolgees, word bevorder. Weggee of verkoop van skoolklere aan enige persoon wat nie aan Transvalia verbonde is nie, is streng verbode. Tweedehandse klere kan eerder aan die klerebank by die skool geskenk of verkoop word.

Seuns-Skooldrag

Grys, kort- of langbroek (mag nie afgewerk word nie en moet oor die knie getrek kan word).
Swart of grys lyfband word by die broek gedra.
Wit skoolhemp, kortmoue (sonder das) of langmoue (met das).
Skooldas verpligtend met langmouhemde. Skooldas verpligtend indien baadjie gedra word.
Slegs skoolbaadjie indien nodig. (Verpligtend vanaf begin 2de tot einde 3de kwartaal)
Skoolkouse. (Grys)
Swart skoene. Geen stewels met gespes.
Amptelike skoolserp. (Donkerblou)
Saam met kortmouhemp- "pull over", nie skooltruie.
Slegs Valia selfoonbande is toelaatbaar.

Seuns-Netheid

Die hare moet te alle tye netjies gesny wees volgens die natuurlike afwaartse ronding van die skedel en die lengte moet geleidelik afneem van bo na onder en mag nie die kraag raak nie.
Kuif mag nie oor die oogbank hang nie.
Haarpunte mag nie oor oë hang nie.
Punkstyle, diep "steps" en sogenaamde modestyle word nie toegelaat nie.
'n Sy paadjie is nie verpligtend nie.
Hare moet bokant die ore skuins afloop en mag níe oor die ore hang nie.
Wangbaarde mag nie verder as die middel van die oor strek nie.
Hare - natuurlike haarkleur.
Seuns wat reeds skeer, moet daagliks skoon geskeer wees.

Dogters-Skooldrag

Wit, kort- of langmou (met skooldas) skoolhemp.
Broekromp (13cm van grond af as op knieë staan).
Vlootblou langbroek volgens die verskaffers se standaarde ontwerp vir dogters.
Slegs skoolbaadjie indien nodig. (Verpligtend vanaf begin 2de tot einde 3de kwartaal)
Truie mag nie om die heupe gebind word nie.
Wit sokkies wat saam met die broekromp gedra word, mag slegs een breë omslag hê.
Donkerblou sokkies moet saam met die langbroek gedra word.
Swart skoolskoene.
Amptelike skoolserp. (Donkerblou)
Saam met kortmou- "pull over", nie skooltruie.
Slegs Valia selfoonbande is toelaatbaar.

Dogters-Netheid

Kort kapsels mag nie langer as die omslae van die hempskraag wees nie. Los hare moet uit die gesig weggesteek word. 'n Haarband in een van die skoolkleure is toelaatbaar.
Kuif mag nie die wenkbroue bedek nie anders moet dit sywaarts gekam en vasgesteek word.
Lang hare moet met korrekte blou of rooi geruite of wit linte of rekkies vasgemaak word. Slegs klein eenvoudige silwer, goud of haarkleurknippies word toegelaat.
Slegs 'n sagte permanente golwing wat in 'n versorgde kapsel gedra word, is toelaatbaar. Die hare mag nie gepluis word en wild om die kop staan nie.
Uitspattige modestyle of kleure word nie toegelaat nie.

Grimering

Geen grimering word toegelaat nie. Uitsonderings - bv. onderlaag a.g.v. velprobleme, moet deur 'n mediesesertifikaat gestaaf word.

Naels

Wanneer die handpalm vertoon word, mag die naels net bokant die vingerronding uitsteek. Naelversterkerof kleurlose naellak is toelaatbaar. Geen "French Manicure" of lang gel-naels nie.

Lapelwapens en juweliersware

Slegs skool lapelwapens mag aan die baadjielapel gedra word, bv. VCSV, Vita Academia en VLR. Geen ringe, kettings of ander behangsels, behalwe 'n mediese inligtingsketting word toegelaat nie. Polshorlosies nie uitermate groot nie. Oorkrabbertjies (slegs toegelaat vir dogters.) Oorkrabbertjies moet 'n paar vorm en slegs een per oor word toegelaat. Indien meer as een gaatjie in die ore, word die oorkrabbertjie in die onderste gaatjie gedra. OORRINGE: Goue of silwerkleurige ringetjies nie groter as 'n nuwe 20c stuk en dikker as 3mm nie. KNOPIES: Slegs goud of silwerkleurige klein knopies word toegelaat. GEEN tongringe, naeltjieringe, ringe, kettings, armbande, halssnoere en ander behangsels nie, behalwe 'n mediese inligtingsketting. LET WEL: Ontoelaatbare juweliersware word gekonfiskeer en veilig bewaar.

Huiswerk

Dit is beleid by Transvalia dat leerders gereeld in alle vakke wat aangebied word, huiswerk ontvang. Alle huiswerk moet gereeld, getrou en netjies gedoen word. Indien ouers merk dat leerders nie "huiswerk kry nie" sal dit waardeer word indien hulle met die skool kontak maak.

Leerwerk is die belangrikste gedeelte van huiswerk. 'n Hoërskool leerder kan dus nooit sonder huiswerk wees nie. Dit is absoluut noodsaaklik dat 'n leerder wat 'n sukses van sy/haarskoolloopbaan wil maak, volgens'n vasgestelde rooster sal studeer. Daar word voorgestel dat huiswerk in die volgorde van moeilike werk na maklike werk gedoen word.

'n Studieprogram moet alle vakke insluit en nie net leervakke nie. Tale en vakke soos Rekeningkunde, Wiskunde en Natuur- en Skeikunde vereis daagliks oefening. Leerders wat hulle skuldig maak aan pligsversuim, sal gestraf word. Vir deeglike beplanning is 'n dagboek 'n noodsaaklikheid. Ouers behoort insae in die dagboek te kry. ('n Dagboek is nie 'n prenteplakboek nie). Indien 'n leerder probleme met studiemetodes ondervind, is hulle welkom om die skool vir hulpverlening te kontak. Voorgestelde studietye:
Gr. 8 - 9 : 2 1/2 uur per dag
Gr. 10-11 : 3 1/2 uur per dag
Gr. 12 : 4 uur per dag