Geboue en Terrein

Sportontwikkelingsentrum(Gimnasium)
Fisioterapeut spreekkamer
Twee rekenaarsentrums
Een Ingenieursgrafika en Ontwerp rekenaarklas
Radio Valia
Kafeteria
Mediasentrum
Nuwe Tennis en Netbalbane
Binnenhuise krieketnette
Krieketoefenfasiliteite

Agtergrond

1 April 1958 word erken as die amptelike stigtingsdatum van Hoërskool Transvalia onder die tydelike hoofskap van Mnr. J. de Vlamingh. Op 3 Januarie 1959 begin die skool in tydelike geboue in Buddstraat met Dr. S.W. Roos die eerste permanente hoof, 13 personeel en 348 leerders.

Baie gou moes die hoërskole in die Vaaldriehoek kennis neem dat daar met Hoërskool Transvalia rekening gehou moet word op die sportveld en op ander terreine. Op 18 September 1963 word die huidige skoolgebou amptelik geopen en word die skoollied vir die eerste keer deur ons dogterskoor gesing.

Dr. Roos word in 1970 aangestel as Inspekteur van Onderwys en Mnr. Ackermann neem in 1971 waar as hoof. In 1972 kry Transvalia sy tweede permanente hoof, Mnr. Elmar Steyn, wat tot sy aftrede in 1982 die skool van krag tot krag lei.

Mnr. J.N.C.J. Coetzee was hoof vanaf Januarie 1983 tot Julie 1988 waarna hy as Superintendent van Onderwys aangestel is. Mnr. F.A. Visser was hoof vanaf April 1989 tot April 2000. Hy het 'n pos by die PU vir CHO aanvaar in die departement Openbare betrekkinge.

Hy word opgevolg deur Mnr. R.A. Oosthuizen vanaf 1 Julie 2000. Op 1 Augustus 1992 word Transvalia ook 'n Staatsondersteunde skool. In Oktober 2009 word Mnr. J.R. Venske aangestel as skoolhoof.

Met trots kan vandag teruggekyk word na 'n ryke verlede en 'n kragtige voortstuwing om die skoolleuse BEHOU EN BOU uit te leef.

Skoollied

Waar die saad van rooigras windwieg
oor die vlakveld van die Vaal-
en wye aarde uitkring
Op die hoëveld van Transvaal,
Waar die staalstad sterke arms reik
Na die land se helder lug-
Staan Transvalia, die trotse
Skool van hoop en arbeidsvrug,
Waar ons bid en hoop en werk-
Uit ons eie erf die goed behou
Waar Transvalia, so trots en sterk
Hier ons land se toekoms bou.

REFREIN
Bou, behou, behou en bou
Transvalia (x2)jou jeug se faam
Bou, behou, behou en bou
Transvalia (x3) jou trotse naam.

WOORDE:
Mnr. Elmar Steyn

Skoolwapen


Die sentrale simbool in ons wapen is die arend, ontleen aan die ou Transvaalse Wapen - simbool van krag.

Die by met sy ywer en energie is vir ons die simbool van ons daaglikse taak - vandaar die tweede gedeelte van ons leuse bou.

Die wiel van die ossewa, die eertydse draer van beskawing na die Transvaal, simboliseer vir ons daardie dinge ín ons volksverlede wat ons wil behou in ons skool.

Erekode

Ons gee in ons skool die ereplek aan God en Sy Woord en ons streef Christelike lewensbeginsels na.
Ons beywer ons vir ons Taal, ons Nasie en ons Land.
Ons gedra ons onder alle omstandighede as waardige Suid-Afrikaner seuns en -dogters.
Ons streef daarna om eerlik, getrou, opreg, hulpvaardig en vriendelik te wees.
Ons woord is ons eer.
Ons dien ons skool getrou en handhaaf sy goeie naam met woord en daad.
Ons respekteer ons skooldrag en skoolklere.
Ons wil die beste gebruik maak van geleenthede, voorregte en ook woeker met ons talente.
Ons strewe na netheid met betrekking tot ons self, ons werk en ons omgewing.
Ons beywer ons om 'n rol te speel in die gemeenskap, met medeverantwoordelikheid en samewerking.

Missie

TRANSVALIA strewe daarna om 'n Christelike-, kultuureie-, moedertaal- en kwaliteitonderwys, gekenmerk deur 'n breë nasionale karakter waar binne elke leerder tot volle potensiaal kan groei, aan ons leerders te bied.